South Africa & Shifting Global Trade

Trump se 'Liberation Day'-Handelstariewe: ‘n Herstrukturering van die Wereldwye Ekonomiese Handelsorde 

Terwyl die res van die wêreld steeds koorsagtig besig was om ekonomiese alliansies en handelsroetes te herstruktureer ná die laaste rondte handelstariewe deur Amerikaanse president Donald Trump, het hy op 2 April sy Bevrydingsdag bom laat bars. Sy aankondiging van ‘n nuwe reeks swaar handelstariewe beklemtoon die Withuis se voorneme om die VSA te bevry van onregverdige handelsooreenkomste en vermeende handelswanbalanse. 

Die nuwe sarsie aankondigings omsluit ‘n omvattende basis wederkerige handelstariewe van minstens 10% op alle goedere wat die VSA binnekom. Daarbenewens sluit dit verhoogde tariefkoerse in op dosyne handelsvennote wat tot op hede aansienlike handelsurplusse met die VSA geniet het. 

China se Uitgebreide Voorsieningsketting 

Alle Chinese goedere is getref met 'n 34% tarief, met drasties verhoogde tariewe van 46%, 49%, en 36% onderskeidelik teen Viëtnam, Kambodie en Thailand, die naburige Suidoos-Asiatiese lande. ​Hierdie nasies het die afgelope aantal jare integrale dele van China se voorsieningsketting gevorm. 

Vietnam was een van die vernaamste begunstigdes van Trump se handelstariewe tydens sy eerste presidensiele termyn, met die land se vervaardigingsbedryf wat skerp groei ervaar het. Baie Chinese vervaardigers het hul bedrywighede na die land verskuif om die vorige tariewe te omseil - met ander woorde Chinese produkte met ‘n “Made in Vietnam”-stempel. Die VSA poog met hierdie tariewe om China se breër vervaardigingsnetwerk te ontwrig en die herleiding van goedere deur derdeparty-nasies aan te spreek. 

China se Reaksie en Strategiese Heroriëntering

Vrydag, 4 April, het China, soos verwag kon word, teruggekap het met hul eie invoertariewe. Hulle het die handelsoorlog verder aangeblaas met die aankondiging van 34% tariewe op alle Amerikaanse invoere. Tydens die afkondiging het die Chinese Staatsraad ’n beroep op Trump gedoen om die Amerikaanse tariewe op te hef “en handelsverskille op ’n gelyke, respekvolle en wedersydse manier op te los.” 

China het verder ook die uitvoer van belangrike seldsame minerale (rare-earth elements) beperk. Terselftertyd het hulle aangekondig dat sekere Amerikaanse maatskappye verbied gaan word om in die land besigheid te doen, terwyl Chinese reguleerders goedkeuring vir maatskappye wat in die VSA wil belê, gaan vertraag. Amerikaanse nywerhede wat produkte van tegnologiese aard soos rekenaars en elektronika, chemikalieë en farmaseutiese produkte, motors, groothandel, asook halfgeleiers (semi-conductors) vervaardig, gaan die hardste getref word. 

Beijing het waarskynlik reeds die gevolgtrekking gemaak dat President Trump van plan is om die tariewe te gebruik om die Amerikaanse ekonomie afsonderlik te herstruktureer, eerder as ‘n wapen in die onderhandelingsproses met handelsvennote. China se reaksionere tariewe op Amerikaanse uitvoere maak dus sin, aangesien Trump waarskynlik eers na die onderhandelingstafel sal kom as die Amerikaanse ekonomie daadwerklik verswak. 

China se teen-tariewe tree eers op 10 April in werking, ‘n dag ná Trump se tariewe. Volgens kenners hier in China is dit Beijing se poging om Trump onmiddellik na die onderhandelingstafel te probeer lok om ’n duurder handelsoorlog te voorkom, maar dis hoogs onwaarskynlik. Op die korttermyn gaan die handelsoorlog die Amerikaanse verbruiker meer seermaak, aangesien uitvoere na die VSA verlede jaar slegs 2.8%, of ongeveer $524.66 biljoen, van China se BBP uitgemaak het. 

China is sedert Trump se eerste presidentiele termyn aktief besig om ekonomiese bande met ander nasies wat deur VSA-handelsbeleid geraak word, te versterk. Dit sluit ‘n hernude fokus op verhoudings met voormalige VSA-bondgenote en die uitbreiding van sy invloed in streke soos Suidoos-Asië en Europa. Die land se omvattende internasionale infrastruktuur- en handelsontwikkelingsstrategie, die “Belt and Road” Inisiatief (BRI) en die versterking van die BRICS handelsalliansie/ekonomiese pakt, waarvan Suid-Afrika ‘n lid is, is ander belangrike voorbeelde. China het reeds ander opsies geskep, en daar kan verwag word dat die land sal voortgaan om hulself as 'n meer betroubare handelsvennoot te posisioneer.

Dis belangrik om te onthou dat die Chinese ekonomie nie tans dieselfde groei toon soos voor die pandemie-jare nie. Ten spyte van mediaberigte oor China se suksesse in areas soos tegnologie en EV motorvervaardiging, is verbruikersvertroue in die res van die ekonomie tans laag. Om verbruikersbestediging aan te por het die regering laasmaand ‘n nuwe reeks maatreels aangekondig, insluitende die uitbreiding van inruilprogramme, salarisverhogings in sekere sektore, asook maatreëls om die eiendomsmark te stabiliseer.  Terselftertyd word baie gedoen om buitelandse beleggers en besighede terug te lok om hul massiewe binnelandse ekonomie te stimuleer. 

Gevolge vir Suid-Afrika en VSA-Afrika Handel

Die handelstariewe tref Afrika lande swaar en bedreig die (African Growth and Opportunity Act) AGOA-handelsooreenkoms wat sedert 2000 verskeie ontwikkelende lande se ekonomieë in Afrika ondersteun. Volgens die ooreekoms het 32 lande voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark. Suid-Afrika, die vasteland se grootste uitvoerder na die VSA, is getref met 'n 30% tarief op sy goedere. Dit sluit 'n 25% tarief op voertuie en onderdele in en plaas verdere druk op die ekonomie. ​

Aan die een kant, kan verwag word dat China die geleentheid sal gebruik om sy invloed in Afrika verder uit te brei as die vasteland se belangrikste handelsvennoot. Aan die ander kant is Suid-Afrika, as ‘n lid van die BRICS handelsalliansie en met goeie verhoudinge met Beijing, steeds in ‘n voordelige posisie. Dis ‘n gulde geleentheid om ekonomiese verhoudinge met China uit te brei, veral in die landbousektor. ​Laasmaand het Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse Landbousakekamer, weer ‘n beroep op die regering gedoen om die uitbreiding van landbou-uitvoere na die reuse China mark te prioritiseer.

China is verantwoordelik vir 11% van die wereld se landbou-invoere, die meeste ter wereld. Suid-Afrika het die uitvoervermoëns, en kan geposisioneer word as 'n sleutelverskaffer te midde van al die wereldwye handelskommelinge. ​Die Chinese Minister van Landbou, Han Jun, het in ‘n onlangse toespraak gese: “As ’n nasie van 1.4 miljard mense, moet ons op onsself staatmaak om ons bevolking te voed. Ons kan nie op ander afhanklik wees nie. Voedselsekerheid is ’n prioriteit, en ons moet altyd waaksaam bly.” Hulle het egter lande soos Suid-Afrika en Brasilie nodig om hul bevolking te voed. 

Breër Impak op die Globale Ekonomie

Teen Vrydag het die Amerikaanse aandelemark met 10% geval, die Nasdaq het amper 5% getuimel en die Dow Jones het meer as 1,600 punte gesak. Aansienlike wisselvalligheid in wereldwye markte, verdere inflasie, en stygende verbruikerspryse is almal se voorland. 

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) veroorsaak ‘n omvattende 10% styging in die Amerikaanse handelstariewe, tesame met vergeldingsmaatreëls, ‘n wereldwye vemindering van 0.5% van BBP. ​

Die goue randjie is dat verskeie lande met die VSA gaan probeer onderhandel voordat die tariewe in werking tree. Vietnam, wat swaar getref is, het reeds na die Wit Huis uitgereik en die land se leier, To Lam, het aangebied om alle tariewe op Amerikaanse invoere te verwyder. Die nuus het die aandelepryse van maatskappye wat sommige van hul produkte in Viëtnam vervaardig, laat styg. So byvoorbeeld het Nike aandele met 4% verbeter. Alhoewel daar nie ekonomiese stabiliteit in die nabye vooruitsig is nie, is daar hoop. 

Previous
Previous

Engaging Chinese Consumers via Local Social Platforms

Next
Next

Selling in China - Finding the Right Entry Strategy